Hoekom ons die verspreiding van Covid-19 dringend moet vertraag | WWF South Africa

What would you like to search for?

Our News

Hoekom ons die verspreiding van Covid-19 dringend moet vertraag

Die WWF werk vir die beswil van beide die mens en die natuur – daarom dat ons hierdie wetenskap-gebaseerde inligtingspakket oor Covid-19 saamgestel het om te lees en te deel.

Covid-19 is ’n nuwe virus. Ons het nie ’n entstof óf medisyne om dit te behandel nie. Dít is waarom ons eerste stap van verdediging teen hierdie hoogs aansteeklike virus die vertraging van verspreiding is. Ons moet ons hospitale en klinieke kans gee om die situasie te hanteer en lewens te kan red.

Is dit waarom ons ’n landswye “inperking” ondergaan?
Ja. Deur aan te dring daarop dat mense tuis bly, gemeenskapsbyeenkomste te verbied, openbare ruimtes te sluit en reis te beperk, verminder ons die risiko dat die virus versprei. Slegs ’n paar sake-ondernemings – insluitend supermarkte, apteke en ander verskaffers van noodsaaklike dienste – sal oop bly.

Wat is die koronavirus of Covid-19?
Die nuwe koronavirus veroorsaak ’n virale respiratoriese siekte. Covid-19 (die naam wat aan hierdie spesifieke stam van die virus gegee is) het die eerste keer kop uitgesteek in China in Desember 2019. Sedertdien het dit vining versprei na meer as 100 lande, insluitend Suid-Afrika. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het dit ’n “pandemie” verklaar – ’n siekte wat wêreldwyd voorkom.
 
Wie is die kwesbaarste?
Bejaardes, individue met verswakte immuunstelsels en gesondheidsorgwerkers blyk ’n hoër sterfterisiko te hê. Indien jy jonk en gesond is, het jy steeds ’n verantwoordelikheid om te help voorkom dat die virus – wat jou ouers, grootouers, kollegas, vriende en mede-Suid-Afrikaners kan affekteer – verder versprei. Ons land het groot getalle mense wat HIV-positief is, asook baie wat ly aan tuberkulose (TB) of ander onderliggende gesondheidstoestande, soos diabetes en hartkwale, wat hulle meer kwesbaar maak.

Wat van kinders?
Die siekte is minder ernstig in kinders, maar hulle kan wel ander mense aansteek. Dit is daarom belangrik dat hulle weggehou word van ander.

Hoe word die koronavirus oorgedra?
Die virus word nou van persoon tot persoon oorgedra via respiratoriese druppeltjies wanneer ’n geïnfekteerde persoon hoes of nies. Hierdie geïnfekteerde druppeltjies mag ook op oppervlaktes land, waar die virus vir ’n lang tyd kan oorleef.
 
Wat is die simptome?
Hoes, seer keel, kortasemheid en soms koors.

Hoe word die virus behandel?
Die meeste mense sal slegs matige simptome ervaar en herstel sonder behandeling, of met slegs ondersteunende sorg. Dit kan egter ernstig raak en virale pneumonie (asemhalingsprobleme) veroorsaak wat hospitalisering noodsaak.
 
Hoe kan ek verhoed dat ek die virus versprei?

  • Bly binnenshuis tydens die inperking én bly 2 meter (3 treë) weg van ander.

  • Was jou hande dikwels met seep vir minstens 20 sekondes op ’n slag, of gebruik andersins ’n ontsmetmiddel met ’n 70%-alkoholbasis.

  • Moenie aan jou oë, neus of mond raak nie – dít is hoe die virus die liggaam binnekom.

  • Sorg dat voorwerpe en oppervlaktes waaraan daar dikwels gevat word, gereeld ontsmet en skoongemaak word.

  • Vermy nabye kontak met mense wat siek is.

  • Bly tuis indien jy siek is.

  • Wanneer jy moet hoes of nies, bedek jou mond of nies in die binnekant van jou elmboog. Andersins, gebruik ’n sneesdoekie en gooi dit dan weg.


Wat is die regte manier om my hande te was?

  1. Maak jou hande nat en vryf hulle met seep vir minstens 20 sekondes (maar nie onder lopende water nie – draai die kraan toe).

  2. Vryf tussen jou vingers en gebruik jou vingerpunte om die binnekante van jou palms te skrop.

  3. Was die seep van jou hande af met lopende water wanneer jy klaar is.

 
Hoe gereeld moet ek my hande was?
So gereeld as moontlik, maar veral wanneer jy die huis moet verlaat vir noodsaaklike dienste, wanneer jy terugkeer huis toe, voor en ná jy kosmaak en nadat jy die toilet gebruik het.
 
Hoe gemaak as ek nie toegang tot lopende water het nie?

  • Skep ’n handwas-stasie met ’n 5-liter-houer wat ’n ingeboude kraan het.

  • Gebruik andersins ’n plastiekbottel om ’n kantelkraan (“tippy tap”) met ’n voetpedaal te skep.


Watter proses volg ek om getoets te word as ek vermoed ek het die koronavirus?
Kontak asseblief die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes se regeringsadviseurs vir die nuutste inligting.
Indien jy kontak gehad het met ’n siek persoon of met iemand wat Covid-19 onder lede het en jy ontwikkel daarna koors, ’n hoes of asemhalingsprobleme, bel óf die noodlyn op 0800 029 999 óf ’n dokter om vas te stel of dit nodig is om getoets te word.

Moet ek ’n masker dra?
Jy behoort slegs ’n masker te dra indien jy vermoed jy kan dalk ’n infeksie aan iemand anders oordra. Ons moet versigtig wees om nie mediese personeel se kosbare voorraad op te gebruik nie. Indien jy omsien na iemand met Covid-19 word jy aangeraai om wel ’n masker te dra, asook jou hande gereeld te was. Hierdie maskers moet op ’n verantwoordelike wyse mee weggedoen word. Maskers kan ’n bron van infeksie wees indien hulle nie op die regte manier gebruik word nie.
 
Watter medikasie moet ek gebruik om my simptome tuis te behandel?
Tans is die aanbeveling dat parasetamol (Panado) vir koorsverligting gebruik word. Daar is ’n mate van kommer dat ibuprofen (anti-inflammatoriese middels) sake dalk mag vererger.

Hoe kan ek my gemeenskap help?
Een van die grootste gevolge van die virus waarmee ons almal sal moet worstel is die sielkundige impak van isolasie. Ons moet omsien na ons eie geestesgesondheid en ander help om dieselfde te doen.
Dink aan moontlike maniere waarop jy jouself en ander kan help om hierdie stresvolle tyd te bowe te kom. Skep gemeenskap-Whatsappgroepe om betroubare inligting, hulpbronne en bemoedigende boodskappe te deel. Bedink ’n plan om bejaardes of ander weerlose mense te help. Indien iemand siek raak, neem vir hulle kos en water (as hulle nie ’n kraan het nie) en los dit buite hulle deur, behou kontak met hulle via Whatsapp of SMS, en bel die hulplyn indien dit vir hulle nodig raak om na ’n kliniek of hospitaal te gaan.
 
Waar kan ek die nuutste inligting kry?

  • Bel die noodlynnommer (0800 029 999) in noodgevalle of gebruik die korona-Whatsappdiens deur die woord “Hi” te stuur aan 060 012 3456.

  • Vir datavrye, lewendige terugvoer oor die verwikkelinge in Suid-Afrika, besoek https://coronavirus.datafree.co/

Share This!

Help us spread the message